Boknes Belastingbetalers-vereniging Grondwet 2007 en gewysig 2011.1.
- NAAM
Die naam van die vereniging sal die Boknesbelastingbetalers-vereniging heet en sal voorts naverwys word as “die Vereniging”
2. DOELSTELLINGS
Die doelstellings van die Vereniging is:
- Om as Vereniging verteeenwoordigend vir sy lede van Boknesstrand op te tree en in belang van die Vereniging skakeling te hê met die Munisipaliteit van Ndlambe, Provinsiale- en Nasionele Regering en ander instansies soos nodig.
- Om bystand te verleen en saam te werk met enige van genoemde liggame wanneer nodig by wyse van advies of aanbevelings in sake wat betrekking het op die belange van die vereniging se lede.
- Om in die algemeen instrumenteel te wees of om mee te help om enige saak wat tot voordeel van die belastingbetalers-vereniging sal wees, te bevorder en ten uitvoer te bring.
- Om fondse in te samel, ledegeld te vorder om op wettige wyse fondse te bekom om uitvoering te gee aan die doelstellings van die Vereniging.
3. REGSPERSOONLIKHEID
Die Vereniging is 'n vrywillige vereniging met eie regspersoonlikheid en beperkte aanspreeklikheid en as sodanig:
- vestig sy bates, skulde, regte en verpligtigings onafhanklik van sy lede
- het dit ewigdurende opvolging onafhanklik van die lidmaatskap van sy lede en
- is dit gemagtig om in eie naam te dagvaar en gedagvaar te word.
4. DIE VERENIGING IS ‘'n ORGANISASIE SONDER WINSOOGMERKE
Die vereniging is 'n organisasie sonder winsoogmerke en alle fondse, inkomste, bates en eiendom van die Vereniging op welke wyse ook al verkry, sal alleenlik aangewend word vir die uitvoering van die primêre en aanvullende doelstellings. Geen gedeelte daarvan sal betaal of oorgedra word hetsy direk of indirek, by wyse van dividend, bonus of in welke ander vorm ook al aan enige lid nie. Desnieteenstaande die bogenoemde is die Vereniging gemagtig om betalings te maak te goedetrou as redelike vergoeding aan enige beampte of werknemer van die Vereniging of aan enige lid in ruil vir dienste reeds gelewer aan die Vereniging.
5. DIE VERENIGING IS ‘n NIE-POLITIEKE ORGANISASIE
Siende die Vereniging se doel om belange van die lede te bevorder en te beskerm, sal die Vereniging 'n nie-politieke organisasie wees en sal nie met enige politieke beweging vereenselwig nie.
6. BEPERKTE AANSPREEKLIKHEID EN VRYWARING
Geen lid van die Bestuur sal aanspreeklik wees aan die Vereniging of enige lid vir enige verlies of skade voortvloeiende uit enige handeling of nalate tensy sodanige skade of verlies voortvloei uit kwaadwillige of 'n growwe nalatige handeling of versuim. Die Vereniging stel en hou die Bestuur skadeloos voortvloeiende uit enige verlies of skade voortspruitende uit 'n handeling of nalate in die uitvoering van die Bestuur se verpligtinge tensy sodanige skade of verlies voortvloei uit kwaadwillige optrede of growwe nalatigheid.
7. LIDMAATSKAP
- Elke geregistreerde eienaar(s) van een of meer erwe in Boknesstrand en wie se lidmaatskapgelde soos in (b) hieronder betaal is, is lid van die Vereniging.
- Lede wie se lidmaatskapgeld, soos van tyd tot tyd deur die Komitee bepaal en wat voor die Algemene Jaarlikse Vergadering van elke jaar ontvang is, sal stemgeregtig wees op enige vergadering van die Vereniging.
8. STEMREG
- Elke lid en gade wat lid van die Vereniging is, sal stemreg hê of kan 'n secundus skriftelik aanwys.
- 'n Lys van stemgeregtigdes sal voor elke vergadering deur die Sekretaris vir insae beskikbaar gestel word. Stembriewe sal aan alle stemgeregtigdes op elke vergadering beskikbaar gestel word.
- Stemming geskied per geslote stembrief, tensy die vergadering vooraf, by wyse van hande opsteek, anders besluit.
- 'n Secundus kan vir slegs een lid van die Vereniging optree tydens die Algemene Jaarvergadering met dien verstande dat die secundus nie lid van die vereniging is nie.
9. BESTUUR
- Die belange van die Vereniging sal deur 'n komitee, wat op die Jaarlikse Algemene Vergadering verkies word, behartig word. Hierdie komitee sal bekend staan as “die Komitee”. Die helfde van die lede van die Komitee moet jaarliks uittree. Uittredende lede van die Komitee wat hul bereidheid verklaar, is herkiesbaar.
- Die Komitee sal uit 'n voorsitter, sekretaris, onder-voorsitter, penningmeester en twee addisionele lede bestaan.
- Indien 'n vakature gedurende die jaar in die Komitee ontstaan, kan die Komitee die vakature self vul. Hierdie aanstelling moet egter by die eerskomende Jaarlikse Algemene Vergadering bekragtig word.
- Indien geen lid bereid is om op die Komitee te dien nie, moet 'n tussentydse komitee aangewys word om lede vir die komitee te werf wie bereid is om op die Komitee te dien. Die nuwe Komitee moet binne drie maande aangewys word en op die eerskomende Algemene Jaarvergadering bekragtig word. Indien dit onmoontlik is om 'n nuwe komitee aan te stel, moet Artikel 13 van die Grondwet op die eersvolgende jaarvergadering oorweeg word.
- Die Komitee moet alle bates van die Vereniging behoorlik en verantwoordelik bestuur.
- Die Komitee moet sodanige personeel as wat nodig is, aanstel en ontslaan op redelike billike terme en voorwaardes.
- Die Komitee moet namens die Vereniging toetree tot litigasie om enige eis te verdedig of reg te beskerm.
- Die Komitee is bevoeg om alle stappe te neem wat nodig mag wees om die doelstellings van die Vereniging uit te voer of sy belange te bevorder.
- Die Komitee moet by die Algemene Jaarvergadering 'n voorsittersverslag indien.
10. VERGADERINGS
10.1 Komiteevergaderings
- Die Komitee sal ten minste twee keer per jaar vergader.
- Twee lede van die Komitee mag versoek dat 'n Spesiale Vergadering van die Komitee gehou word.
- 'n Kworum vir 'n vergadering van die Komitee sal vier lede wees.
- Besluite word geneem deur 'n meerderheid van stemme. By staking van stemme het die Voorsitter, benewens sy eie gewone stem, ook 'n beslissende stem.
- 'n Komiteelid wat sonder verskoning van twee komiteevergaderings agtereenvolgens afwesig is, hou op om lid van die Komitee te wees.
10.2 Spesiale Algemene Vergadering
- 'n Spesiale Algemene Vergadering mag deur die komitee belê word.
- Op skriftelike versoek van ten minste die helfde van die lede van die Vereniging moet die Voorsitter 'n Spesiale Algemene Vergadering belê. So 'n vergadering sal slegs na behoorlike kennisgewing aan alle lede op 'n tyd so geskik moontlik te Boknesstrand gehou word.
- Kennisgewing met vermelding van plek en tyd vir sodanige Spesiale Vergadering moet ten minste een-en-twintig dae (21dae) voor die tyd aan alle lede per aangetekende pos versend word en ook by die Daniel Scheepers-Saal en by die winkels van Boknes geadverteer word.
- Nie-ontvangs van 'n kennisgewing, maak nie die vergadering of besluite ongeldig nie.
- 'n Kworum sal die helfde van die lede wees.
10.3 Jaarlikse Algemene Vergadering
- Die Jaarlikse Algemene Vergadering sal gehou word te Boknesstrand tussen 15 en 31 Desember op 'n tyd en plek soos deur die Komitee bepaal.
- Kennisgewing van die vergadering sal by die Daniel Scheepers-Saal, winkels en kennisgewingborde te Boknesstrand geadverteer word.
- 'n Kworum sal “aantal lede teenwoordig”, wees.
11. FINANSIES
- Die fondse van die Vereniging sal by 'n geregistreerde finansiële instelling gedeponeer word en die Komitee sal drie lede aanwys wat tekenregte het. Tjeks moet deur twee van die drie lede geteken word.
- Behoorlike boekhouding moet gedoen word en finansiële verslag moet op die Jaarlikse Algemene Vergadering vir goedkeuring voorgelê word.
12. WYSIGING VAN DIE GRONDWET
- Enige wysiging van hierdie Grondwet kan slegs geskied deur 'n twee-derde meerderheid van aanwesige lede op die Algemene Jaarvergadering.
- 'n Voorstel ter wysiging van die Grondwet moet nie later nie as 15 Oktober aan die Sekretaresse voorsien word en moet onderteken wees deur beide die Voorsteller en die Sekondant. Sodanige wysiging moet deur die Sekretaris aan alle opbetaalde lede versend word om lede nie later as 30 November te bereik nie.
13. ONTBINDING
- Die Vereniging kan ontbind deur 'n twee-derde meerderheidsbesluit van die teenwoordige lede op 'n Jaarlikse Algemene Vergadering.
- By ontbinding van die Vereniging, vir welke rede ook al, sal die oorblyende bates na bevrediging van alle skulde en geskenke, oorgedra word aan 'n ander vereniging of organisasie met soortgelyke doelwitte as van die Vereniging.
14. DOMICILIUM—die domicilium citandi et executandi van die Vereniging sal geleë wees te Boknesstrand by sodanige fisiese adres as wat die Komitee van tyd tot tyd mag bepaal.
Geteken te.......................................... op die.........dag van ...........................................2013
..................................................... .....................................................
